Verteilschriften in Afrikaans
An verschiedenen Beispielen wird die Genialität der Schöpfung dargestellt. Als Wissenschaftler erklärt Prof. Dr. Werner Gitt, dass die unglaubliche Information, die in der ganzen Schöpfung steckt, einer intelligenten Quelle bedarf. Diese Quelle ist Gott selbst. Die Wissenschaft kann nur das "Was" analysieren, nicht aber das "Woher". Das "Am Anfang schuf Gott Himmel und Erde" der Bibel gibt uns eine Antwort auf die Frage nach der Herkunft des Lebens. Der Gedanke, Gott hätte durch Evolution geschaffen (die so genannte "Theistische Evolution"), untergräbt die Autorität der Bibel und ist mit dem christlichen Glauben unvereinbar. Die Bibel zeigt deutlich, dass Jesus der Schöpfer ist. Jesus hat die Menschen geschaffen und liebt sie hingebungsvoll. Darum lädt Jesus dazu ein, diese Liebe anzunehmen. Dieses Traktat eignet sich besonders gut zur Weitergabe an suchende Menschen! Wie ís die Skepper? Die wêreld rondom ons Wanneer ons die wêreld rondom ons beskou, word die bestaan van hoogs ingewikkelde en doelgerigte ontwerpe in die natuur gou duidelik. ‘n Paar voorbeelde: Die potvis, ‘n tipe walvis, is in staat om so diep as 3000 meter onder die wateroppervlak te duik sonder om aan borrelsiekte te beswyk. Of kyk maar na die speg, ‘n voëlsoort ook bekend as die ‘houtkapper’, wat ten spyte van sy harde gepik teen ‘n boomstam geen harsingskudding opdoen nie. Volledig funksionerende lewensorgane (byvoorbeeld hart, lewer en niere) is noodsaaklik vir die behoud van lewe. Onontwikkelde, halfontwikkelde of selfs organe wat nog in ‘n ontwikkelingsproses is, sou net nie deug nie. Ook dié mense wat Darwin se evolusieteorie aanhang, moet met hierdie feit rekening hou. Die meeste trekvoëls beskik oor ‘n ingeboude navigasiesisteem wat hulle in staat stel om, ongeag weersomstandighede of dag of nag, ‘n voorafbepaalde eindpunt met groot akkuraatheid te bereik. Daar is byvoorbeeld ‘n voëlspesie wat jaarliks vanaf Alaska na Hawaii vlieg om te oorwinter. Die vereiste energie daarvoor word verskaf deur ‘n 70-gram vetreserwe (wat ook 6,8 gram insluit as voorsorg teen moontlike sterk teenwinde), wat presies die benodigde hoeveelheid is vir die vlugafstand van 4 500 km. Die nautilus, ‘n klein seediertjie, bewoon net ‘n gedeelte van sy spiraalvormige skulp wat in kompartemente verdeel is. Hierdie kompartemente word, na gelang van die diepte waarop die diertjie hom bevind, sodanig met gas gevul dat dit steeds in ‘n ‘sweef’-toestand bly. In vergelyking daarmee kom ons moderne duikbote, wat van dieselfde beginsel gebruik maak, maar redelik lomp en onbeholpe voor. Meestal bevind die nautilus hom bedags op ‘n waterdiepte van sowat 400 meter, maar kom snags hoër op na sowat 100 meter. Sommige mikroskopies-klein bakterieë het ingeboude elektriese motore, aangedryf deur protone, wat hulle vorentoe en agtertoe kan laat beweeg. Binne die ongelooflike klein spasie van ‘n ses-miljardste kubieke millimeter beskik ‘n enkele coli-organisme oor ses sulke motore plus ‘n eie ‘generator’ vir kragopwekking, ‘n rekenaarstelsel en ‘n hele aantal ‘chemiese fabrieke’. Enige lewende sel is oneindig komplekser en vindingryker as enige masjien wat ‘n mens kan bou. In so ‘n sel verloop duisende prosesse gelyktydig en volgens ‘n bestemde plan. In die DNS-molekules van lewende selle vind ons, sover bekend, die digste konsentrasie van inligting. Om ‘n mens ‘n idee daarvan te gee: ‘n Speldekop bestaande uit DNS sou die inligting kon stoor wat in sowat 5 biljoen (5 x 1012) tipiese skoolhandboeke vervat is. Hierdie aantal boeke, opmekaar gestapel, sou ongeveer 200 miljoen km hoog wees, oftewel, meer as 500 maal die afstand tussen die aarde en die maan (≈ 384 000 km). Ons heelal bestaan na raming uit sowat 1025 sterre [= die getal 1 gevolg deur 25 nulle]. Hierdie getal kan nie naastenby tydens een mens se leeftyd getel word nie. Sou ons egter ‘n besonder kragtige rekenaar vir die telwerk inspan, een wat 10 miljard (10 x109) berekeninge per sekonde sou kon deurvoer, dan sou dit nog steeds meer as 30 miljoen jaar duur om hierdie taak te voltooi! Wanneer ons net na hierdie paar (van talle ander) voorbeelde kyk, begin die denkende mens homself afvra: Vanwaar al hierdie merkwaardige geniale konsepte? Die evolusieleer, waarna baie mense gryp as ‘n moontlike verklaring, bied egter geen bruikbare antwoord nie aangesien dit uitsluitlik die materiële wêreld as uitgangspunt het – selfs vir die siel (emosies) en die ‘bewussyn’ (gees) van die mens, asook vir die enorme hoeveelheid gestoorde inligting wat selle bevat. Die natuurwette wat geld vir inligting sê egter dis ‘n nie-materiële entiteit wat ‘n intelligente oorsprong moet hê en gevolglik ook die eienskap van ‘n ‘wilsbesluit’ by die oorsprong daarvan voorveronderstel. Kortom, die hele skepping getuig van ‘n bonatuurlike intelligensie en wysheid wat nie ontken kan word nie. Mens kan kwalik anders as om tot die slotsom te kom dat die skepping berus op die werk van ‘n buitengewoon kreatiewe en intelligente skepper. Nou kom die vraag: Waar vind mens ‘n betroubare antwoord? Binne die raamwerk van die natuurwetenskappe is dit alleenlik moontlik om die waarneembare wêreld rondom ons (ruimte, tyd, materie en energie) na te vors en te meet, weliswaar met al hoe meer gesofistikeerde toerusting en metodes. Nogtans is dit steeds net die ‘hoe?’ van die skepping, en nie die ‘waarom?’ daarvan nie, wat by al hierdie pogings beantwoord kan word. ‘n Betroubare antwoord op die tweede vraag lê buite die vermoë van die mens en kan eintlik net deur die Skepper self gegee word. Maar hoe en waar het Hy hom aan ons bekend gemaak – in die Bybel, in die Koran, of dalk in ‘n ander ‘heilige’ boek? Die baie verskillende godsdienste in die wêreld kan tog nie almal reg wees nie, siende dat hulle uiteenlopende en selfs weersprekende antwoorde gee op die ‘waarom’-vraag. Hulle is óf almal verkeerd, óf hoogstens één kan reg wees. Gelukkig is daar ‘n belangrike maatstaf waarvolgens die waarheid op die proef gestel kan word, naamlik deur vas te stel waar voorspellings heelwat later konsekwent bewaarheid is. Die Bybel is die enigste boek waar talle vroeëre voorspellings (ek weet van 3268 gekontroleerde gevalle) later bewaarheid is. Geen ander boek kan op so ‘n ‘waarmerk’ aanspraak maak nie en in talle ander opsigte is die Bybel uniek in vergelyking met enige ander geskrif op hierdie aarde. Daarom is die Bybel vir my God se Woord aan ons mense. Reeds in die heel eerste vers van die Bybel word die vraag omtrent die Skepper beantwoord: “In die begin het God die hemel en die aarde geskape.” En daarmee word ook voldoen aan die reeds genoemde vereiste vir ‘n intelligente oorsprong. Hoedanig is hierdie Skepper? Voordat daar ruimte, tyd of materie was, was God dié een wat van altyd af daar was en gehandel het. Weliswaar skep die eerste vers in die Bybel die indruk dat God, as die Vader van alles, alleen die Skepper was. Daar is egter ‘n belangrike aanduiding in die skeppingsberig dat Hy nie alleen betrokke was nie: “Laat ons mense maak”, lui dit in Génesis 1:26. Ook die Heilige Gees was betrokke, want ons lees in die tweede vers van die Bybel: “...en die Gees van God het gesweef op die waters.” Gewoonlik gee die Bybel nie alle inligting op een keer nie, maar doen dit stap-vir-stap. In die Nuwe Testament word nog meer lig gewerp op die betrokkenes by die skepping. In 1 Korinthiërs 8:6, byvoorbeeld, word Jesus Christus duidelik by die skeppingswerk betrek: “...tog is daar vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom, en een Here Jesus Christus deur wie alles is, en ons deur Hom.” Die Hebreeuse woord ‘Elohim’ in Génesis 1:1 is ‘n meervoudsvorm van die Skeppergod. Kom ons probeer die skeppingshandeling aan die hand van ‘n alledaagse voorbeeld verduidelik: Ons, as gesin, ry met die motor en gaan vriende besoek. Toe dit tyd word vir die terugreis sê die vader van die gesin: “Kom, dis tyd dat ons huis toe ry.” Hoewel die meervoudsvorm, ‘ons’, gebruik word, beteken dit nog steeds dat net een persoon aan die stuur sit en die motor beheer. Die res van die gesin sit wel ook in die voertuig – ‘ry’ inderdaad ook – hoewel net die bestuurder daarvan aktief die kontroles [stuur, brandstof- en rempedaal, ens.] beheer. Hierdie eenvoudige beeld kan ons help om die Bybelse weergawe van Wie by die skeppingsdaad betrokke was beter te verstaan. Deur Jesus Christus het God die wêreld gemaak, aldus Hebreërs 1:2. Net so berig die Evangelie volgens Johannes reg aan die begin dat alles wat bestaan hul oorsprong aan Jesus Christus te danke het: “Alle dinge het deur Hom [oftewel, deur die Woord, m.a.w. deur Jesus Christus] ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie” (Johannes 1:3). Iemand het dit eenmaal só saamgevat: ‘God die Vader het die besluit geneem vir die ontstaan van die skepping en Jesus Christus het dit uitgevoer in die krag van die Heilige Gees’. Jesus Christus is die Skepper Aangaande Jesus Christus se skeppingshandeling lees ons verder in die brief aan die Kolossense 1:16-17: “...want in Hom [= Jesus Christus] is alle dinge geskape wat in die hemele en op aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte – alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape. En Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand.” In die sigbare, materiële wêreld is daar niks wat nie deur Jesus Christus geskape is nie. Dit geld vir die reusegrootte makro-kosmos, met sy miljarde sterrestelsels, net soos vir die kleinste besonderhede van lewensprosesse in ‘n enkele sel, of die struktuur van die atoom. Jesus Christus is nie alleen die Skepper van die hele mikro- en makro-kosmos nie, maar Hy het ook die oppergesag daaroor. Daarbenewens is Jesus Christus ook die Skepper van ‘n – vir ons as mense – onsigbare realiteit. Hy het gesorg vir talle hemelwesens wat die Bybel ‘engele’ noem. En, net soos alles in God se sigbare skepping getuig van ordelikheid te midde van ‘n groot verskeidenheid, só ook in die onsigbare wêreld. Daarvan getuig die verwysing na ‘trone sowel as heerskappye en owerhede en magte’. Jesus Christus is nie net die Skepper nie, maar ‘hou ook alle dinge in stand’. Ná die skepping van die wêreld het Hy dit nie net eenvoudig aan homself oorgelaat nie, maar Hy onderhou en dra alle dinge “deur die woord van sy krag”, soos Hebreërs 1:3 dit stel. Derhalwe hoef ons nie angstig te wees oor moontlike kosmiese katastrofes wat die aarde sal tref nie, of dat ons son sou ‘uitbrand’ en afkoel nie – Jesus Christus hou die wêreld in stand tot met sy wederkoms. Die mens is nie die produk van ‘n gelukspel, soos die Nobelpryswenner Jaques Monod beweer het nie. Inteendeel, ons is geskape met ‘n spesifieke doel en eindbestemming – ‘tot Hom’ (Jesus)! Mag ons hierdie Doelwit nie verpas nie! Die skeppingswerk van Jesus Christus soos reeds berig in die Ou Testament In Spreuke 8:22-24 & 30 lees ons: “Die HERE het my berei as eersteling van sy weg, voor sy werke, van ouds af. Van ewigheid af is ek geformeer, van die begin af, van die voortyd van die aarde af, toe daar nog geen wêreldvloede was nie, is ek gebore; .... toe was ek ‘n kunstenaar naas Hom...” Die woord ‘kunstenaar’ wys weereens op die aktiewe betrokkenheid van Jesus Christus by die skepping. Psalm 102, vers 26 word in die Nuwe Testament aangehaal (Hebreërs 1:10) met verwysing na Jesus Christus: “U, o Here, het in die begin die aarde gegrondves en die hemele is die werke van u hande.” Hoe het die Skepper te werk gegaan? Sou ons wou weet hoe die skepping tot stand gekom het, dan openbaar die Bybel die volgende omtrent die Skepper se werkwyse: Deur God se Woord: Psalm 33:6; Johannes 1:1-4; sonder voorafbestaande materiaal: Hebreërs 11:3; deur die krag van God: Jeremia 10:12; deur die wysheid van God: Psalm 104:24; Kolossense 2:3; na die wil van God: Génesis 1:26; Openbaring 4:11; deur die Seun van God: Johannes 1:1-4 & 10; Kolossense 1:15-17; ooreenkomstig die wesenskenmerke van Jesus Christus: Matthéüs 11:29; Johannes 10:11. Hierdie faktore was werksaam tydens die ses skeppingsdae waarvan Génesis 1 berig. Verder, hierdie skeppingsgebeure kon self nie onderworpe gewees het aan die natuurwette wat daardeur gevestig is nie en kan daarom net deur die geloof aanvaar word, soos Hebreërs 11:3 ook duidelik sê. Prosesse in die wêreld waarmee ons vandag vertroud is, verloop volgens sekere natuurwette – hulle is nie die oorsaak van die skepping nie, maar wel die resultaat daarvan. Wat is vir ons in Jesus Christus gegee? Hy is die fondament waarop ons ons lewe kan bou. Daar was ‘n finansiële instelling wat geld aan huiseienaars geleen het met die slagspreuk: “Op ons kan jy bou”. Soveel te meer kan ons van Jesus Christus sê: “Op hierdie fondament kan jy bou”. In Hom het alles sy oorsprong: Die skepping, die Bybel, geloof, ons redding, vrede, hoop, toegang tot die Vader, en die grondslag vir ‘n sinvolle bestaan nou en ook in die ewigheid. Christus is die ewig vaste Rots (1 Korinthiërs 10:4). Wanneer God sê: “Ek sal die wysheid van die wyse mense vernietig...” (1 Korinthiërs 1:19), dan is dit teen die toetssteen ‘Jesus Christus’ waaraan elke mensgemaakte ideologie en filosofie ten gronde sal gaan. Ook die voorstanders daarvan sal eendag die knie moet buig voor die Here Jesus Christus (Filippense 2:10), ten spyte van hul huidige heftige verset teen die bestaan van hierdie Ontwerper, Skepper en Heiland. Waarom evolusionisme so gevaarlik is Evolusionisme is meer as maar net ‘n alternatiewe wêreldbeskouing. Dit het as resultaat ‘n doellose bestaan sonder enige hoop, soos treffend beskrywe deur Jean Paul: “Daar is geen God nie... net ‘n leë, stomme niks! Onafwendbare en gevoellose noodlot! Waansinnige toeval...! Hoe alleen is elkeen in die oneindige ‘begraafplaas’ genaamd die heelal!” Evolusionisme beweer dat die wêreld sonder ‘n skepper verklaar kan word en gevolglik gaan dit hand-aan-hand met die ateïsme. Die resultaat is ‘n uiteinde in die verderf volgens Jesus se eie woorde in Markus 16:16: “... hy wat nie glo nie, sal veroordeel word.” Daar is mense wat probeer om die evolusieleer as God se werkmetode te propageer. Sou God wel volgens die evolusieleer te werk gegaan het, dan word die bestaan van ‘n eerste geskape man en vrou verloën; sou die begrip ‘sonde’ sy betekenis verloor, siende dat “aggressie die beginsel is waarvolgens evolusie gedryf word” (Joachim Illies); het God ‘dood’ as ‘n werktuig in sy skepping gebruik; sou ‘n grondbeginsel van die verlossing deur Jesus Christus verloën word, naamlik dat Hy, as ‘laaste Adam’ in teenstelling met die ‘eerste Adam’ (1 Korinthiërs 15:45), plaasvervangend vir ons kon sterf. Dit is duidelik uit die paar voorbeelde hierbo dat die sogenaamde ‘Teïstiese Evolusie’ grondwaarhede van die Bybel aantas of ontken en gevolglik verwerp moet word. ‘n Asemrowende gedagte Ons het Jesus Christus as die Skepper van alle dinge leer ken. Hy is dié Een wat van ewigheid af was en die Koning van die hele hemelryk is. Aan Hom is alle mag in die hemel en op aarde gegee (Matthéüs 28:18). Kan ons nou die volgende asemrowende gedagte begryp? – Die Man aan die kruis van Gólgota en die Skepper van hierdie wêreld én van alle lewe, is een en dieselfde Persoon! In sy onbegryplike liefde vir ons laat Hy toe, sonder om Homself te verweer, dat Hy gekruisig word, sodat vir ons die toegang na die hemel bewerkstellig kan word. Wie hierdie grootse reddingsdaad verwerp, verloor alles: “Hoe sal ons ontvlug as ons so ‘n groot saligheid verontagsaam...?” (Hebreërs 2:3). Wie Jesus egter as sy Redder aanneem, wen alles: “Wie my woord hoor en Hom glo wat my gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe” (Johannes 5:24). Vra die Here Jesus om vergifnis van al jou sondes, sodat ook jy God se oordeel kan vryspring; neem Hom aan as jou persoonlike Skepper en Heiland en volg Hom na. Jy sal dit nie berou nie! Prof. Dr.-Ing. Werner Gitt
Die grundlegende Frage, die suchende Menschen sich stellen, wird hier von Prof. Dr. Werner Gitt beantwortet. "Wie findet man den Himmel?" Auf jeden Fall nicht durch eigene Anstrengungen oder Konzepte. "Was aber bringt uns wirklich in den Himmel?" Gott hat die Einladungen für den Himmel schon verteilt wie im Gleichnis des Menschen, der zu einem großen Fest Einladungen verschickte. Doch viele Menschen redeten sich heraus. Prof. Dr. Gitt ruft dazu auf, nicht so "kurzsichtig" wie diese Leute zu sein. Jesus will uns vor der Hölle erretten und diese wird kein Vergleich zu der sogenannten "Hölle von Auschwitz" sein. Er hat am Kreuz für unsere Schuld bezahlt, wir müssen diese Einladung nur annehmen, dann ist ein Platz im Himmel "gebucht". Ein Entscheidungsgebet soll den Lesern dabei helfen. Dieses Traktat eignet sich besonders gut zur Weitergabe an suchende Menschen! Hoe kom ek in die Hemel? Die vraag omtrent die ewigheid word deur baie mense eerder gesystap, selfs deur dié wat wel nadink oor die einde van hul aardse bestaan. So is daar byvoorbeeld Drew Barrymore, ‘n Amerikaanse vrou wat as kinderster ‘n rol vertolk het in die fiksie-film E.T. Sy het as 28-jarige in 2003 gesê: “Sou ek voor my kat te sterwe kom, dan moet julle my as vir die kat gee om te vreet, sodat ek minstens in my kat verder kan lewe.” Wat ‘n verwronge en kortsigtige opvatting omtrent die dood! Toe Jesus Christus op aarde was, 2000 jaar gelede, was die probleme waarmee mense na Hom gekom het feitlik deurgaans van tydelike, aardse belang: Tien melaatses wou gesond word (Lukas 17:13); Blindes wou graag sien (Matthéüs 9:27); Iemand vra vir bemiddeling in die geskil oor ‘n erfporsie (Lukas 12: 13-14); Fariseërs kom met die strikvraag of aan die keiser belasting betaal moet word (Matthéüs 22:17). Slegs enkele mense het na Jesus toe gekom om te verneem hoedat mens in die hemel kom. ‘n Ryk man het hom wel opgesoek met die vraag: “Goeie Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe?” (Lukas 18:18). En hy kry ook ‘n antwoord, naamlik die opdrag om alles te verkoop waaraan hy verknog was en om dan Jesus na te volg. Maar siende dat hy baie ryk was, kon hy dit nie oor sy hart kry om dié raad te volg nie, en daarmee was ook die hemel vir hom nie beskore nie. Daar was ook mense wat glad nie aan die hemel gedink het nie, maar deur hul ontmoeting met Jesus daarvan bewus geword het. Sommige van hulle het dadelik die geleentheid aangegryp. Saggéüs was so ‘n man wat Jesus, uit nuuskierigheid, graag wou sien, maar op die ou-end baie meer ontvang het as wat hy verwag het. Met Jesus by hom aan huis vind Saggéüs as’t ware die hemel. Jesus merk op: “Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom” (Lukas 19:9). Hoe vind ‘n mens die Hemel? Uit voorafgaande lei ons die volgende af: ‘n Mens vind die Hemelse Koninkryk op ‘n definitiewe tydstip. En dit is goed so, want nou kan ook u, liewe leser, weet dat die ewige lewe wat God aanbied vandag nog deur u toegeëien kan word. Om deel te word van die Hemelse Koninkryk is nie gekoppel aan enige prestasie van my kant nie. Die Hemelse Koninkryk kan ek sonder enige ‘voorbereiding’ van my kant aanvaar. Ons eie idees om in die hemel te kom, insoverre dit nie berus op wat God gesê het nie, is bedrieglik. Byvoorbeeld, ‘n pop-sangeres sing in ‘n lied van ‘n afgetrede sirkusnar en sê: “Hy kom seker in die hemel omdat hy so baie mense opgebeur het”. Of, daar is die skatryk man wat ‘n toevlugsoord vir verwaarloosde vroue bou en één vereiste stel vir hul toelating: Die vroue moes elke dag vir ‘n uur lank bid vir die sieleheil van hul weldoener. Nou, wat bring ons dan wel in die Hemel? Om hierdie vraag ondubbelsinnig en duidelik te beantwoord, het Jesus ‘n verhaal vertel. In Lukas 14:16 lees ons van ‘n man (in hierdie verhaal stel dit God voor) wat ‘n groot feesmaal (‘n voorstelling van die hemel) gereël het. Hierdie man nooi dan ook spesifieke gaste, maar hul reaksies is uiters teleurstellend. Een na die ander kom hulle met taamlik ongeloofwaardige verskonings vorendag: “Ek het ‘n stuk grond gekoop...”; “Ek het vyf span osse gekoop....”; “Ek het onlangs getrou....”. Geeneen kon, of wou, kom nie. Die verhaal eindig dan (Lukas 14:24) met dié opmerking van die gasheer: “Ek sê vir julle dat nie een van daardie manne wat aanvanklik genooi is, my maaltyd sal smaak nie.” In hierdie verhaal gaan dit daaroor dat ‘n mens die hemel kan wen of verloor. Die bepalende faktor is of ‘n mens God se uitnodiging aanneem of verwerp. Kan mens dit eenvoudiger stel? Waarskynlik nie! Talle mense sal eendag by die hemel uitgesluit wees, nie omdat hulle die manier om daar te kom nie geken het nie, maar wel omdat hulle nie positief op God se uitnodiging gereageer het nie – soos die drie persone in Jesus se verhaal. Beteken dit dat die feesmaal daarmee afgelas is en nie deur gaan plaasvind nie? Nooit as te nimmer nie! Jesus vertel hoedat die gasheer, nadat hy die verskonings van die uitgenooide gaste gekry het, nou uitnodigings oral heen uitstuur. Weliswaar nie meer keurige uitnodigingskaartjies in goud gedruk nie (ons moderne voorstelling), maar net eenvoudig deur sy diensbodes wat uitroep: “Kom!” En elkeen wat positief reageer op hierdie ruimhartige uitnodiging, is verseker van ‘n plek in die feessaal. En wat gebeur nou? Ja, daar is mense wat kom – soms selfs groot skares. Maar kort voordat die fees sou begin, stel die gasheer vas dat daar nog enkele plekke beskikbaar is en hy stuur weereens sy bodes uit om vir oulaas nog mense te nooi. Hier wil ek nou die verhaal op ons toepas, want klaarblyklik vergelyk dit met die situasie vandag. Daar ís nog plek in die hemel en God nooi jou: “Kom en ‘bespreek’ jou plek in die hemel!” Wees verstandig en neem sommer vandag nog ‘n besluit oor jou ewige bestemming. Omdat die hemel so onbeskryflik mooi is, vergelyk die Here Jesus dit met ‘n groot fees. In 1 Korinthiërs 2:9 word die volgende gesê: “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor het nie, en wat in die hart van die mens nie opgekom het nie, dit het God gereed gemaak vir dié wat Hom liefhet.” Gevolglik kan niks op hierdie aarde net naastenby vergelyk met enigiets in die hemel nie. En siende dat die hemel so heerlik is, behoort ons dit mos onder geen omstandighede te verpas nie! Net één Persoon bied egter vir ons die moontlikheid van toegang tot die hemel – Jesus Christus, die Seun van God! En aan Hom is dit te danke dat ons so maklik hierdie toegang kan verkry. Dit hang nog net af van ‘n persoonlike wilsbesluit. En net wie so kortsigtig is soos die drie manne in die gelykenis, gaan die uitnodiging verontagsaam. Redding geskied alleenlik deur die Here Jesus In Handelinge 2:21 lees ons ‘n baie belangrike stelling: “Elkeen wat die Naam van die Here (Jesus) aanroep, sal gered word.” Dis ‘n kernvers in die Nuwe Testament. Later, toe Paulus in gesprek kom met die tronkbewaarder van die gevangenis in Filippi vat hy die boodskap saam met dié woorde: “Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin” (Handelinge 16:31). Hierdie boodskap is wel kort, maar kragtig en lewensveranderend, sodat die tronkbewaarder nog daardie nag tot bekering kom. Daar is nog iets wat ons vir seker moet weet: Dis Jesus se groot begeerte om ons te laat ontkom van die pad na die verderf, die hel. Die Bybel sê dat beide die hemel en die hel ewigdurend is. Net, die een is wonderlik heerlik; die ander verskriklik. ‘n Derde bestemming is daar nie. Vyf minute na sy dood sal niemand meer kan sê: “Met die dood het alles geëindig nie.” En wat bepaal ons eindbestemming? Één enkele Persoon: Jesus Christus – en ons verhouding tot Hom! Toe ek enkele jare gelede in Pole op reis was, het ek die vroeëre konsentrasiekamp by Auschwitz besoek. Verskriklike tonele het daar gedurende die Tweede Wêreldoorlog afgespeel. Vanaf 1942 tot 1944 is hier meer as 1,6 miljoen mense, hoofsaaklik Jode, vergas en verbrand. In die literatuur word daarna verwys as die ‘Hel van Auschwitz’. Hierdie uitdrukking het my laat nadink terwyl ‘n gids ons gelei het deur een van die gaskamers waar tot 600 mense op ‘n keer gesterf het. ‘n Mens kan jou hierdie wreedheid skaars voorstel. Maar was dít werklik ‘die hel’? Vandag kan ons die gaskamers by Auschwitz as besoekers besigtig omdat die verskriklike gebeure aldaar in 1945 beëindig is. Niemand word meer daar gefolter of gedood nie; dit was ‘n verbygaande gebeurtenis. In teenstelling daarmee duur die hel waarvan die Bybel praat vir ewig. In die voorportaal van die hedendaagse museum val my oog op ‘n tekening van Christus aan die kruis. Een van die gevangenis het sy ganse hoop op die Gekruisigde met ‘n skerp voorwerp op die muur uitgebeeld. Ook hierdie kunstenaar het in ‘n gaskamer gesterf, maar hy het die Redder, Jesus, geken. Hy het weliswaar, nes sy Verlosser, op ‘n verskriklike manier aan sy aardse einde gekom, maar vir hom het die hemel oopgegaan. Uit die hel, waarteen die Here Jesus so uitdruklik waarsku (bv. Matthéüs 7:13; 5:29-30; 18:8), is daar egter geen ontkoming of redding meer nie wanneer ‘n mens eers daar aangeland het. Aangesien die hel – in teenstelling met Auschwitz – ewigdurend in bedryf is, kan dit nooit net besigtig word nie. Maar ook die hemel is ewigdurend en dit is die plek waar God ons graag sou wou hê. Daarom, gee ag op Sy uitnodiging om in die hemel te kom. Roep die Naam van die Here aan en ‘bespreek’ daarmee u plek in die hemel! Na ‘n voorlesing van my oor hierdie onderwerp, vra ‘n vrou ontsteld: “Kan ‘n mens dan ‘n plek in die hemel bespreek? Dit klink dan so na ‘n reisagentskap!” Ek bevestig weereens: “Wie nie bespreek nie kom nie by sy bestemming nie. Sou u na Hawaii wou reis, word ‘n geldige vliegkaartjie vereis.” Waarop die vrou opmerk: “Ja, maar so ‘n vliegkaartjie moet tog betaal word?!” “Reg”, sê ek, “maar die prys is so hoog dat geen mens dit kan betaal nie. Dit is ons sonde wat die groot struikelblok is. God kan geen sonde in die hemel toelaat nie. Wie na hierdie lewe op aarde die ewigheid by God in die hemel wil deurbring, moet eers van sy sonde verlos word. Hierdie verlossing van sonde kan net deur ‘n sondelose persoon bewerkstellig – en daardie Persoon is die Here Jesus Christus. Alleenlik Hy kan die skuld betaal! En dit het Hy met Sy bloed gedoen toe Hy aan die kruis gesterf het.” En wat moet ek nou doen om in die hemel te kom? Eerstens, ek moet begryp dat God se uitnodiging om redding ook vir my persoonlik bedoel is. Verder, die Bybel lê nadruk daarop dat ek moet reageer op God se oproep tot bekering: “Stry hard om in te gaan deur die nou poort...” (Lukas 13:24). “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom!” (Matthéüs 4:17). “Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat tot die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind.” (Matthéüs 7:13-14). “...gryp na die ewige lewe, waartoe jy ook geroep is...” (1 Timothéüs 6:12). “Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word...” (Handelinge 16:31). Uit hierdie (en ander) Skrifgedeeltes herken ‘n mens onmiskenbaar die erns en die dringendheid van God se uitnodiging om te deel in Sy hemelryk. Dit sal net logies wees om op so ‘n uitnodiging te reageer met ‘n gebed, naastenby soos die voorbeeld hieronder: “Here Jesus, ek het vandag gelees dat ek alleenlik deur U in die hemel kan kom, en ek sal graag eendag by U in die hemel wil wees. Daarom smeek ek dat U my sal red van die hel, waar ek eintlik hoort as gevolg van my sondeskuld. Ek glo dat U uit liefde, ook vir my, aan die kruis gesterf het en sodoende die straf vir my sonde op U geneem het. U ken al my sondes, reeds vanaf my vroegste jeug – dié waarvan ek bewus is, maar ook dié wat ek reeds vergeet het. U ken my deur en deur. In die sondige toestand wat ek nou is, is ek nie geskik vir die hemel nie. Daarom bid ek dat U al my sondes sal vergewe – ek het waarlik berou daaroor. Here Jesus, kom nou in my lewe en vernuwe dit. Help my om alles af te lê wat in U oë onaanvaarbaar is en gee my ‘n nuwe natuur wat U tot eer sal strek. Open vir my die toegang tot U Woord, die Bybel. Help my om te verstaan wat U daardeur vir my wil sê en gee my ‘n gehoorsame hart, sodat ek dít sal doen wat U verlang. Van nou af moet U my HEER wees. Ek wil u volg; wys my die pad aan wat ek moet gaan ten opsigte van elke faset van my lewe. Baie dankie, Here, dat U my verhoor het, dat ek nou ‘n kind van God mag wees, en dat ek eendag by U in die hemel sal wees. Amen.” Prof. Dr. Werner Gitt